GETUIENISSE OMTRENT KURSUSSE
Die pastorale beradingskursus gefokus op jongmense, het my nuwe insig gegee oor die effek van trauma op ons lewens, veral as trauma vroeg ervaar is en eers later manifesteer in verhoudinge of geestes ongesteldheid. Hoe die brein en trauma werk was ook vir my ‘n openbaring! Die kursus help my baie met die emosionele opheffingswerk wat ek doen met plaaswerkers en hul kinders. Die kursus het my ook laat besef dat “trauma” seker een van die mees ongediagnoseerde siektes is van ons tyd!
René Best
Dit is vir my ‘n groot voorreg om hierdie kursus te kon doen en ek beveel dit aan as ‘n absolute moet-doen in enige geestelike en emosionele begeleiding van kinders en jongmense. Die handleidings van Prof Coetzer is van so ‘n aard dat ek dit byderhand hou om weer riglyne en inligting daarin na te slaan op ‘n daaglikse basis. Prof. Coetzer se uitgangspunt, dat ons die werk met kinders en jongmense doen deur die leiding van die Heilige Gees en dat dit alleen die Here is wat genesing gee, bring vir my vastigheid in ‘n wêreld waar ons so baie seerkry by kinders en jongmense beleef.
Gerda Wierenga
Vir baie lank het ek vir God gevra hoe om die gawe wat hy vir my gegee het om ander by te staan reg te kan gebruik. Dit was vir my ‘n wroeging omdat ek nie voldoende kennis gehad het om die mense wat by my aanklop vir hulp met sekerheid te kon help nie. Die Pastorale kursus gefokus op treurberading, sterwensbegeleiding en die hantering van verliese, was vir my van onskatbare waarde. Nie net in my eie lewe nie, maar ook in die persone wat ek nou kan help deur die kennis, insig en ondervinding wat ek opgedoen het. Deur die kursus het ek nie net praktiese kennis opgedoen nie, maar die geestelike groei wat ekself deur die proses ervaar het, was ongelooflik.
Jana vd Westhuizen
Baie dankie vir die voorreg om hierdie 4 jaar intensiewe kursusse deur julle te kon gedoen het. Die temas van hierdie kursusse is geweldig interessant. Dit dek so ʼn groot verskeidenheid van areas dat jy nie anders kan as om oorweldig te wees nie maar die wye veld wat die temas dek laat jou elke keer net meer uitsien na die volgende boek wat jy oopmaak. Die DVD’s van die onderhoude het my baie geleer, veral die luister twee keer en praat eenkeer. Dit was vir my verbasend hoe min die beraders eintlik praat wanneer hulle effektiewe berading verskaf. Ek sien gestremde mense in ‘n heel ander lig en met baie meer respek. Dankie vir die vinnige terugvoer na die inhandiging van elke werkstuk.
René Jordaan
Baie dankie Prof. Dit was regtig ‘n voorreg om die kursus te kon doen. Ek het gevind dat deur net in die sessies te wees wat Prof aangebied het daar bevryding plaasgevind van kindertyd seer. Mag Prof geseënd wees en ‘n instrument in God se hand.
Angelique van Rensburg
Hierdie jaarkursus was ‘n onbeskryflike voorreg. Die reis het my kennis verbreed, met groter simpatie na die stukkende wêreld laat kyk en het tot geestelike verryking gelei. Baie dankie vir u leiding, simpatieke oor as ek vashaak, en al die volledige studiemateriaal, dit is waardevol om in die toekoms te gebruik. Ek bid die Heer se seën oor u werk met ewigheidswaarde. Mag nog vele daardeur verryk en aangeraak word.
Sarie Willemse
Baie dankie Prof! Dit is ‘n wonderlike gevoel om te weet ek het hierdie uitdaging voltooi en ek is so dankbaar vir Prof wat vir my deur die kursus gehelp het en aangemoedig het. Prof het by my ‘n liefde en nuwe respek vir die hele veld van berading gekweek. Meeste van al het Prof vir my nuwe geleenthede in my loopbaan oop gemaak en vir my die geleentheid gegee om my droom en roeping uit te leef en boweal ander mense te help! Baie dankie vir alles! Mag die Here jou en tannie Sonette seën en nog baie jare spaar om ander op hulle pad te help.
Lizanne Campbell
Dankie Prof dat U my die kans gegun het om die Jaar-1 die kursus te kon doen. Ek het geweldig meer rypheid ontvang en was dit vir my ʼn rype geestelike ervaring asook ‘n stuk beradings-gereedskap wat betref my eie persoonlike stres- en lewenstrauma. Dit het my weggeruk van die verlore pad terug na die werklikheid van die lewe en laat besef ek is nie alleen nie. Dit was dus nie maar net nog ‘n ‘kursus’ nie maar ek het dit beleef asof ekself deur ʼn proses van berading gestap het.
Johan Lockem
Ek wil graag my diepste waardering uitspreek vir die kursus wat ek die afgelope vier jaar voltooi het. Hierdie kursus het ‘n merkwaardige impak op my lewe gehad. Deur die proses van innerlike genesing het ek ontslae geraak van baie van my traumas. My hele lewe het verander, aangesien ek nou bevry is van skuldgevoelens, pyn en selfverwyt. Hierdie reis het my gelei tot self vergifnis, en ek kan nou in vrede met myself saamleef. Ek wil spesiale dank uitspreek aan Professor Coetzer vir sy waardevolle inspraak in my lewe gedurende hierdie tydperk. Sy leiding en ondersteuning het ‘n onskatbare rol gespeel in my transformasie en groei. Met opregte dankbaarheid,
Daleen Boshoff